Die Glen Cullen-landgoed in Middelburg, Mpumalanga, en die Moedertaal in Onafhanklike Skole (MOS) Inisiatief het vandeesweek aangekondig dat hulle hande vat met die ontwikkeling van ʼn Afrikaanse privaatskool.
Die beplande skool, wat as die Kosmos Akademie bekend sal staan, se doelwit is om die groeiende Afrikaanse gemeenskap van die omgewing van ʼn gehalte moedertaalonderrigskool te voorsien.
Kosmos Akademie beoog om sy deure in Januarie 2024 by op die Glen Cullen-landgoed te open. Die beplanning is om die skool met graad RRRR tot graad R-klassies te begin, maar indien die belangstelling dit regverdig met ongeveer 12 leerders per klas, sal graad 1 tot 3 ook oorweeg word.
“Dit is vir ons ʼn besondere voorreg om ʼn nuwe, vars en goedgefokusde skool by die Glen Cullen-landgoed te ontwikkel,” sê Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die MOS Inisiatief.
Dit is ʼn privaatmaatskappy wat deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is om ʼn innoverende, inklusiewe, bekostigbare, volhoubare en toekomsgerigte skolenetwerk daar te stel, wat leerders sal voorberei vir die vinnig veranderende wêreld waarin ons onsself tans bevind.